
=====================================================================
In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


In die ban van Karoo-Afrikaans

As Engelssprekende skoolseuntjie op Worcester het J.M. Coetzee, Suid-Afrika se top Engelse skrywer, Afrikaners, taal   en al, as 
weersinwekkend beleef. Maar hy weier om Afrikaans aan hulle af te staan, skryf Rykie van Reenen oor sy jongste werk,   die outobiografiese 
Boyhood, scenes from provincial life. Hy's in die   ban van die Afrikaans van vakansies op die familieplaas in die Karoo.

DAAR is soorte Afrikaans waarmee Coetzee klein-klein al niks te doen wou h nie. Die Afrikaans van Afrikaners wat, gekwes en wrokkig, nors 
hul taal as 'n knuppel teen hul vyande gebruik. Die Afrikaans van speelgrondbuffels met vieslike fok-, poephol- en gat-tale, fris kaalvoet 
Boerkinders met te klein geworde kortbroeke en poenskoppe wat net waar hulle kan, die mammaseuntjie knou en tempteer. Die Afrikaans van 
klaskamers waar kinders gedril word in idiome kwansuis uit die volksmond, maar omgewe van die muwwe ruik van Groot Trek en ossewa. Hy 
verset hom teen Afrikaans se meesmuilende omslagtigheid wanneer selfs grootmense nie die persoonlike voornaamwoord teenoor 'n mindere durf 
gebruik nie en onderdanig soos 'n afgeranselde slaaf brabbel wil mammie nie 'n kombers oor mammie se knie h nie?

As Nasionale Afrikaners in '48 aan bewind kom -- Dok Malan "met sy ronde, kaal gesig sonder begrip of mededo, sy keelvet wat soos 'n padda 
s'n pols", sy "opeengeperste lippe" -- is sy dodevrees dat hy ingevolge NP moedertaalbeleid vanwe sy Afrikaanse van na die Afrikaanse klas 
oorgeplaas sal word.

Hy praat Afrikaans vlot en sonder aksent, maar is van huis uit Engelssprekend en sou nooit vir 'n Afrikaanse kind deurgaan nie. Sy ma is 
Engelssprekend en dra die broek, sy pa is tuis 'n nul op 'n kontrak. Sonder sy oupa se toedoen sou die Coetzees, plaasmense, seker nooit 
Engels gepraat het nie, dink die seuntjie as hy sy pa en ooms hoor gesels. Die eksieperfeksie ou heer was "'n ware ou jintelman ... en 'n 
ware ou jingo" korswil sy seuns. Voor sy dorpshuis op Merweville had hy 'n vlagpaal waar hy op die koning se verjaarsdag die Union Jack 
gehys het. Sonder Engels, reken die kind, sou die Coetzees soos die Botese en die Nigrini's gewees het, stug en bot, met die weer en die 
skaap as enigste diskoers. Ja-nee, s die Botese, en sug; Ja-nee, s die Coetzees, en bidde dat die kuiermense hul ry moet kry.

In die ander bak van die weegskaal l Volfontein. A, Volfontein -- elke klip van daardie plaas het hy lief, elke bossie, elke sprietjie 
gras, die vols wat teensteaand in hul duisende kwetterend neersak sit in die bome rondom die fontein wat die plaas sy naam gee ... 
Kersfeeste trek die ganse familie daar saam, met beddens, matrasse, kampbedjies in elke kamer en op die stoep -- eenkeer tel hy 26. Heeldag 
is sy tante en die twee bediendes in die stomende kombuis aan die kook en bak vir maaltyd na maaltyd, word die een skinkbord koffie en koek 
na die ander aangedra na die mans wat lui- lui op die stoep sit stories verkoop, die Karoo-landskap flikkerend in die hitte.

Gretig drink hy die gemoedelike atmosfeer in, die ongergde mengeling van Afrikaans en Engels wat hulle praat as hulle bymekaarkom. Hy hou 
van hierdie koddige, dansende taal, so gans anders as die stram skool-Afrikaans.

Hy onthou sy eerste besoek aan Volfontein. Hy was vier of vyf, en kon nog glad nie Afrikaans praat nie. Sy boetietjie was nog 'n baba, al 
speelmaats vir hom was die klonkies. Saam met hulle het hy bootjies uit sade gemaak en in die leivore afgestuur. Maar hy was soos 'n stom 
skepsel, alles moes met gebare beduie word; plek-plek het dit hom gevoel hy bars van al die goed wat hy nie kan s nie. Toe, skielik op 'n 
dag, maak hy sy mond oop en kom kry hy kan praat -- maklik, vlot, sonder om te dink. Hy onthou nog hoe hy gillend by sy ma ingestorm het: 
"Luister! Ek kan Afrikaans praat!"

As hy Afrikaans praat, voel dit vir hom al die komplikasies van die lewe val ineens weg. Afrikaans is soos 'n onsigbare omhulsel wat hy 
oral met hom saamdra en waarin hy moeiteloos kan glip en meteen 'n ander mens word, eenvoudiger, vroliker, met ligter tred.

Een ding van Engelssprekendes waarvan hy hom distansieer, is hul minagting vir Afrikaans, die laai wat hulle het om neerbuigend Afrikaanse 
woorde verkeerd uit te spreek, asof dit die waarmerk van klas sou wees om veld uit te spreek met 'n Engelse v. Hy, hy maak g'n toegewings 
nie, nie eens tussen Engelssprekendes nie. Hy spreek Afrikaanse woorde uit soos hulle uitgespreek moet word, harde klinkers en moeilike 
medeklinkers ten spyt ...

Vandag help vestig stukkies outentieke Afrikaanse dialoog meermale die eiebodemlike tekstuur van hierdie uitnemende skrywer se prosa. Rykie 
van Reenen,   voormalige adjunk-redakteur van Rapport, is bekroonde joernalis.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5215.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer 
uit onverwagte oord (AV 5:2) /// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre 
Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// 
Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 
(AV 5:2) /// 'n Woordlint van land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n 
Gelukkige huis lok vele vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 
'n Reis van selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante 
seun, Meyer (AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) 
///

